Advertising News South Africa

Wat is Afrikaans?

By die 15de Pendoring Toekennings, wat Vrydagaand, 18 September 2009, by Vodaworld in Midrand plaasgevind het, het Vodakom se ‘Speler 23' (Jan en Jan & Elton) televisieveldtog met vyf Goue Pendorings en een Prestige Pendoring die pyp gerook.
Wat is Afrikaans?

Die veldtog is gebaseer op 'n Robbie Wessels-karakter wat sing oor twee manne, van verskillende rassegroepe, wat armdruk oor wie die grootste rugbyondersteuner is. Alhoewel die karakters eg Afrikaans, en sport tweede natuur by meeste Afrikaanse mans is, is dit opvallend dat meeste van die woorde in die advertensie in Engels gesing word.

Wat is Afrikaans dan? Is dit die gestereotipeerde psige van 'n groot groep mense wat toevallig 'n spesifieke taal praat? Is dit 'n sekere sin vir humor? Of verwys dit na die taal wat ons praat?

Net wyer gegooi

Het die Pendoring Toekennings hulle net wyer gegooi om ander tale in te sluit en sodoende hul voortbestaan te verseker?

Of kan ons aanvaar dat eg-Afrikaans en eg-Suid-Afrikaans een en dieselfde konsep is?

Gerhard Myburgh, internasionale beoordelaar en skeppende hoof van The Campaign Palace in Melborne, Australie sê: “Werk wat werklik in die Afrikaanse taal gekonseptualiseer is, het uitgeblink. Blote vertalings het egter nie die pyp gerook nie.”

Volgens Anton Visser, spesialisbeoordelaar vir TV, is TV-werk besig om te ontwikkel. “Dit gaan nie meer oor ooglopende Afrikaanse idiome of kulurele ironie nie, maar om voortreflike skeppende werk.”

“'n Paar juweeltjies”

“Ofskoon inskrywings in die TV-kategorie skraps was, was daar tog 'n paar juweeltjies,” sê Iaan Bekker, skeppende hoop van Brandwealth. “Die ‘Speler 23-reeks' is 'n netjiese dramatisering van die konvergerende psige van die Afrikaanssprekende se belangstellingsveld. Sport en spot kombineer in 'n uiters genoeglike spieëlbeeld van ons gesamentlike heldeverering - met die fokus op die toeskouer as… held. 'n Ware nasiebouer.”

Klasie Wessels, voorsitter van Streetschool, is van mening: “Eg Suid-Afrikaans - TV was great - dis 'n geleentheid om Pendoring te laat groei in meer as net Afrikaans. Pendoring kan die toekenningsgeleentheid word wat Suid-Afrikaanse werk verteenwoordig.”

Morne Strydom, kopieskrywer op die ‘Speler 23' veldtog, verduidelik in 'n onderhoud dat die taal wat gebruik is in die veldtog meestal Engels is, “omdat ons niemand wou uitsluit nie. Engels is die taal wat meeste mense praat in Suid Afrika. Ons wou die karakter van alle sportondersteuners weergee. Veral Afrikaanse ondersteuners, sonder om ander taalgroepe uit te sluit.”

Ooglopende

'n Ander kategorie wat opvallend was in die Eg-Suid-Afrikaanse afdeling was die wenner van die Goue Pendoring in die radio kategorie. Die toekenning het aan nog 'n Vodakom advertensie gegaan; Bua FM2 en daar is nie een Afrikaanse of Engelse woord in die advertensie nie. Behalwe vir ooglopende vrae soos, “Hoe beoordeel mens 'n taal wat mens self nie praat of verstaan nie,” is daar ook die knaende gedagte dat ‘eg-Afrikaans of eg-Suid-Afrikaans' tog sekerlik deur meeste mense in die land verstaan behoort te word.

Maar in die woorde van die Pendoring veldtog vir hierdie jaar. “Wat jy ook al doen, moet net nie die taal afskeep nie:

Vir meer, gaan na www.pendoring.co.za.

About Marlene Bramley

Marlene Bramley, kopieskrywer op die oorspronklike Yebo Gogo veldtog vir Vodakom (1994) spits haar toe op die ontwikkeling van betekenisvolle inhoud vir webwerwe, advertensies, artikels en blogs in Afrikaans en Engels. Sy is besig om "straatjoernalistiek/straatpraat" te ontwikkel waar gewone mense berig oor gebeure aangesien hulle deel is van die gebeure. Sy is die eienaar van Blink, just don't (http://blinkjustdont.yolasite.com) , 'n virtuele agentskap wat in die vervaardiging van kwaliteit inhoud spesialiseer. Kontak haar per e-pos by .
Let's do Biz